Kuns en kultuur
Graad 9
Skepping, interpretasie en aanbieding
Module 15
Ontwerp ‘n verhoogstel en advertensieplakkaat
VISUELE KUNS
Tot dusver het julle onder andere
verpakkingsontwerp ,
subkulture en die
invloede op ‘n
kunstenaar se werk ondersoek. Nou gaan julle die verpakkingsontwerp van Module 1 en die modelverhogie van Module 3 verder verken en gebruik as inspirasie vir die ontwerp en skepping van ‘n volwaardige
verhoogstel , asook ‘n
advertensie-plakkaat vir julle klasproduksie.
Aktiwiteit 1:
Om ‘n stel vir ‘n verhoogproduksie te ontwerp
[lu 1.14]
STAP 1
- Jy moet ‘n stel op miniatuurskaal vir die dansproduksie van Leereenheid 2 ontwerp. Hierdie stel moet so ontwerp word dat dit enige plek gebruik kan word en nie noodwendig op ‘n saal se verhoog nie – dit moet selfs in die buitelug opgerig kan word.
- Aangesien die dansproduksie op ERFENIS fokus, moet jy kyk hoe jy deur middel van die stel die dans kan aanvul deur gebruik te maak van verskeie erfenisbeelde en/of –simbole. Kyk ook in jou eie omgewing vir enige plekke wat deur jou gemeenskap as ‘n erfenis beskou word. As jy byvoorbeeld in die Kaapstad-omgewing bly, kan jy gebruik maak van ‘n erfenis soos Tafelberg, die Kasteel, Robbeneiland, ou Kaapse huisies, ensovoorts.
- Verdeel eers jou papier horisontaal in drie dele deur middel van drie stippellyne: lyn (a) is jou agtergrond; lyn (b) die middelgrond en lyn (c) die voorgrond:
STAP 2
- Skryf nou eers in jou leerderjoernaal neer waar en wanneer die dans/toneelstuk afspeel; bv. binne of buite, in die stad of op die platteland, gedurende die dag of nag, ensovoorts.
- Daarna beplan jy:
- wat in die agtergrond geplaas moet word, bv. ‘n horisonlyn met hoë geboue of ‘n bergreeks met ‘n maan en wolke as dit in die nag afspeel, ensovoorts;
- wat in die middel geplaas moet word, bv. ‘n muur, struike, ‘n heining, ensovoorts;
- wat op die voorgrond moet wees, bv. ‘n asdrom, ‘n motorband, rommel, ‘n bankie, ensovoorts.
Onthou dat die tema ERFENIS is! Onthou ook om kontraste, soos bv. lig en donker, helder en dof, koue en warm kleure, growwe en gladde teksture ens. in te werk sodat die voor-, middel- en agtergronde duidelik onderskeibaar is en nie saamsmelt nie. Dit is ook belangrik om plek oop te hou vir die dansers sodat hulle genoeg ruimte sal hê om vryelik te beweeg.
STAP 3
- Jy kan nou met kleurpastelle of verf
vorm en tekstuur gee aan die voorwerpe wat jy op die drie stippellyne (agter-, middel- en voorgronde) geteken het. Knip dan elke voorwerp om die beurt uit, BEHALWE die onderkante, dit wil sê die dele wat op die drie stippellyne is. Nadat jy al die vorms uitgeknip het, kan jy hulle na bo buig om hulle met ‘n 90°-hoek staan te maak. Die stelontwerp op ‘n klein skaal is nou voltooi.
- Verdere detail soos bome, bosse of ander voorwerpe kan as losstaande invoegsels van karton gemaak word.
- Bogenoemde skaalmodel dien as beplanning van die stel op klein skaal sodat foute reggestel kan word voordat julle die stel op groot skaal gaan bou – kyk dus nou of daar genoeg ruimte vir die dansers sal wees, en of sommige van jou vorms nie in die pad sal wees nie.