<< Chapter < Page | Chapter >> Page > |
SOSIALE WETENSKAPPE: AARDRYKSKUNDE
Graad 6
KLIMAAT EN PLANTEGROEISTREKE VAN DIE WÊRELD
Module 7
WEERVOORSPELLING EN SINOPTIESE KAARTE
Weervoorspelling en Sinoptiese weerkaarte
Die weer is vir ons almal belangrik, want dit beïnvloed elke dag ons lewens. Ons kan warm of koud kry óf ons kan nat of droog voel. Kan ons mense oornooi vir ‘n braai? Kan ons gaan swem? Sal die sportdag kan voortgaan? ens. As ons die weer bestudeer, kan ons elke dag iets sê van:
hoe warm, koud of gematigd dit gaan wees
hoe winderig dit gaan wees
uit watter rigting die wind gaan waai
die wolktipe wat voorkom
die moontlikheid van reënval
die moontlikheid van dou, ryp of mis
Verskillende instrumente word gebruik om die verskillende elemente van die weer te meet en op te teken.
By weerstasies word lesings elke paar uur met instrumente gemeet. Hierdie lesings word aan die Weerburo in Pretoria gestuur. Suid-Afrika het ook ‘n permanente weerstasie op Marion-eiland en inligting kom ook van Gough-eiland en skepe ter see.
‘n Satellietfoto van Suidelike Afrika.
Een van die grooste probleme wat Suid-Afrika se weervoorspellers gehad het, is die feit dat die meeste weerstelsels uit die weste kom, waar min skepe en weerstasies is. In die verlede het storms die Wes-Kaap bereik sonder enige waarskuwing. Gelukkig word daar vandag ook gebruik gemaak van satellietfoto’s wat beelde uitstuur. Die foto’s toon die wolkmassas oor die hele land en die oseane aan. Dit verskaf aan weervoorspellers deurlopende inligting oor die veranderende weer.
Al hierdie inligting word op groot kaarte by die Weerburo ingevul. Vandag word meeste van die werk deur die rekenaar gedoen. Die weerkundiges bestudeer hierdie SINOPTIESE WEERKAARTE en doen daarvolgens hulle weervoorspellings.
‘n Sinoptiese weerkaart is nie ‘n landkaart nie, omdat dit elemente weergee wat voortdurend verander. ‘n Sinoptiese weerkaart is eintlik reeds verouderd nog voordat dit voltooi is, want dit dui weeromstandighede aan wat reeds verby is. Daaruit moet jy aflei dat weerstoestande van 08:00 by ‘n plek reeds teen die aand na ‘n ander plek verskuif het. Weervoorspellers neem dié feit in gedagte en voorspel wat in die toekoms gaan gebeur. As ‘n weervoorspeller byvoorbeeld weet wat die temperatuur en lugvogtigheid van ‘n sekere plek is, asook in watter rigting die weerstelsel beweeg, kan hy die voorspelling van die latere weerstoestande op ‘n ander plek doen.
Hierdie voorspellings vir die volgende 24 uur se weer word daagliks in koerante gepubliseer en oor die radio en televisie uitgesaai.
Aktiwiteit 1:
Om die weervoorspellings en die werklike weers-omstandighede te vergelyk
[LU 1.2, 1.5]
Die klas verdeel in twee groepe.
Groep 1 versamel vir ‘n hele week lank die weervoorspelling uit die koerant.
Groep 2 stel ‘n kort beskrywing van die werklike weer van die betrokke dae van hul dorp saam. Indien moontlik (as julle die weerinstrumente het), kan die temperature, windrigting en reënval self gemeet word.
Vergelyk nou aan die einde van die week die weervoorspelling van die koerant met die werklike weerstoestande van jul area (dorp).
Notification Switch
Would you like to follow the 'Aardrykskunde graad 6' conversation and receive update notifications?