<< Chapter < Page | Chapter >> Page > |
Die wrede man kom met sy lang byl en kap my pa se kop af.
Ons lag ons dood, my pa lê op die grond en probeer om sy asem terug te kry. Ek gryp my pa aan sy hande en trek hom orent. Nou is dit Bhubesi se beurt. Ons keer hom vas tussen ons arms. Hy spartel woes om uit te kom. Nog voor ek kan kom by die gedeelte wat sê van my ma en sy ma wat lekker kos kook, glip Bhubesi soos ’n vetgesmeerde blits by my pa se kant uit. Ek is sommer kwaad vir my pa, want by my sou Bhubesi beslis nie uitgekom het nie.
Nou is dit my beurt. My pa en Bhubesi keer my stewig in die bos vas. Dis hierdie keer net my pa wat sing, want Bhubesi gebruik al sy krag om my binne te hou. Sy arms krink soos hy probeer om doringtakke om my vas te draai. Sy tande is op mekaar gekners soos hy my keer. Toe my pa kom by die kind wat aan die druiwetros verstik, besef ek my kop gaan afgekap word as ek nie baie gou ’n plan maak nie. Ek byt vir Bhubesi aan sy arm, net mooi in die vet binnegebeelte bokant sy elmboog. Hy skree soos ’n maer vark en gryp na sy arm waar my tandmerke teen sy vel uitstaan. Ek glip maklik uit die bos, niks hou my meer vas nie. Vir my sal daar nie ’n man met ’n byl wees nie.
“Gideon!” skree my pa. Nog voor ek kan weghol, gryp hy my vas. Sommer so in die gryp trek hy my oor sy knie en slaan my met die plathand op my boude.
Dit brand soos vuur en ek sit ’n keel op, maar ek kan nie anders as om te dink: wé, my kop is tog nie afgekap nie, my plan het gewerk.“Sê vir Bhubesi jy’s jammer!”
Maar as ek hom nie gebyt het nie, het ek nou sonder ’n kop rondgeloop!” skree ek.
My pa keer my ’n tweede keer op sy knie om. Hierdie keer slaan hy harder, maak nie saak hóé ek skree nie. Toe hy my weer op my voete neersit, sê ek vanself: “Skuus, Bhubesi, ek is jammer, ek sal dit noooooit weer doen nie!”
Ek en Bhubesi huil nou ewe hard. Hy van die seer aan sy arm en ek van die pak slae. My boude brand.
My ma en Juba kom uitgehardloop. Soos wat ons te kere gaan, dink hulle ons het iets vreesliks oorgekom. Toe ons sien hom bekommerd hulle lyk, huil ons net harder.
Ek druk my kop teen Bhubesi se skouer vas. Hy slaan sy arms om my lyf. Ons huil ons harte uit. Dit voel asof ons alleen is in ’n wrede wêreld vol simpel grootmens.
(Bron: Scheepers, Riana. 2001. Die Blinde Sambok . Kaapstad: Tafelberg-uitgewers.)
2 . Hier volg nou inligting oor drie ander boeke waarin jy dalk sal belangstel. Dit is splinternuwe jeugboeke. Daar volg ook elke keer ’n kort kommentaar oor die boek (effens gewysig aangehaal uit Die Burger ).
Notification Switch
Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 8' conversation and receive update notifications?