<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Toe ons uithardloop, is die hele lug vol vlieënde miere. Hulle stroom uit ’n gaatjie in die grond en vlieg soos mal goed rond. Sommige het al hulle vlerke verloor en kruip op die grond rond. Hulle soek ’n sagte plekkie in die modder om ’n nuwe nes te begin, het Oupa my vertel. Dit gebeur altyd ná die reën, as die grond sag is, dan weet hulle om uit te kom en nuwe neste te maak.

Tannie Bettie kloek asof dit Krismis is. Gewoonlik skrop sy die hele dag naby die kombuis en in my ma se kruietuin rond en wag vir iets lekkers wat vir haar by die deur uitgegooi word, maar nou is sy in die voortuin. Sy pik al in die rondte na die miere met hul vet, geel agterlywe. Daar is ewe skielik ook swaeltjies in die lug. Hulle swiep laag oor ons koppe en vang die miere. Dit lyk asof alles wat kan beweeg en vreet buite is.

Bhubesi het my op ’n keer vertel dat hy ook al vlieënde miere geëet het. “Mens trek

hulle vlerke uit, breek die koppe af en eet die agterlywe.”

“Sies,” het ek gesê en gegril.

“Is lekker,” het hy gesê. “Maar jy is mos ’n meisie, jy sal dit nie eet nie.”

“Ek sal!” het ek tóé vir hom gesê, maar nou weet ek nie meer nie.

“’n Mens kan dit ook gaarmaak in ’n blik oor die vuur, dan smaak dit soos botter,” het hy ook gesê.

Ek kry skielik ’n bottersmaak in my mond en trek skewebek. Ek hoop nie hy onthou nou daarvan en laat my van die goed vang en eet nie. Hy sal sommer probeer om my só terug te kry vir die mpundulu se skrik. Maar ek sál, as ek moet.

My pa kom by die agterdeur uit en sien my.

“Gideon! Trek jy al weer jou gesig? Hy knyp my wang. “As die klok nou slaan, staan jou gesig nét so. En dan gaan jy nooit ’n man kry wat met ’n vrou met so ’n skewe bek wil trou nie.”

Dit wil ek nog eendag sien. Ek sal net voor die klok ’n uur slaan voor ’n spieël gaan staan, my bek plattrek en my oë omdop en dan kyk wat gebeur. Ouma Willemien sê dit móét twaalfuur in die nag wees, anders gebeur dit nie; my pa sê nee wat, dit gebeur met enige klokslag, so ek beter oppas. Ek sal dit eers probeer met ’n gewone uur, as my gesig nie vir ewig skeef en my oë potskeel bly staan nie, sal ek weet ouma Willemien was reg. My pa is nog nie oud genoeg om alles te weet nie. Van trou wil ek buitendien niks weet nie, so dit sal nie te erg wees as ek skeefgesig deur die lewe moet gaan nie.

Ek gryp my pa aan sy hande. “Kom speel saam met ons, Pappa!”

“Wat?” Ek kan sien hy is gelukkig oor die reën, hy gee nie om om nou saam te speel nie.

“Koljander, koljander . . . Toe, Pappa kan eerste in die bos wees.”

Ek los my pa se hande en gryp Bhubesi s’n. My pa moet probeer om los te kom uit die digte bos wat ons arms om hom maak voordat sy kop afgekap word deur die wrede man wat met sy groot byl in die bos bly. Hy moet op die grond kniel sodat ons die bos om hom kan maak. Ek en Bhubesi sing: “Koljander, koljander, so deur die bos, my ma en pa kook lekker kos. . . .“

My pa sukkel hom dood om uit die woeste bos te kom wat ons om hom maak, maar ons is heeltemal te sterk vir hom. “Die kind verstik aan ’n druiwetros, die laaste een se kop word af-ge-KAP!”

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Afrikaans eerste addisionele taal graad 8. OpenStax CNX. Sep 11, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11038/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 8' conversation and receive update notifications?

Ask