<< Chapter < Page Chapter >> Page >

Mnr. Chin – Die storie van ‘n Entrepreneur

Toe mnr. Sophonpanich op Vrydag 24 Junie 1910 op Wa Sai in Thailand gebore is, was dit nogal moeilik om te dink dat hy een van die rykste mense in Asië en die simbool van die Thaise bankwese vir ‘n hele geslag lank sou word. Die naam, mnr. Chin, kom van die laaste vier letters van Sophonpanich.

Mnr. Chin is arm gebore as die seun van ‘n klerk by ‘n saagmeule. Op 5-jarige ouderdom is hy uit Thailand weg, waarna hy 12 jaar as jong seun in die armoedige Chua Toa Distrik in China deurgebring het. Daar was nooit genoeg kos vir hom en sy vier susters nie. Hy het slegs vier of vyf jaar lank skool gegaan en buitendien moes hy die helfte van daardie tyd in die landerye werk. Wanneer dit gereën het, is hy uit die klaskamer geroep om die sagte grond om te spit.

Op hierdie nederige wyse het hy grootgeword en uiteindelik die eretitel van “Reus van die Thaise Finansies” verwerf, nadat hy die Bangkok Bank opgebou het tot die belangrikste finansiële instelling wat ‘n 30 % markaandeel in die algehele bankstelsel in Thailand gehad het.

Hoe het hy dit reggekry?

Mnr. Chin was sy hele lewe lank ‘n presteerder. In alles wat hy gedoen het, het hy nie net sy bes probeer nie, maar om die beste te wees. Hy was altyd besig om te probeer vasstel hoe hy sy werk beter as enigiemand anders kon doen. Dit het gemaak dat hy uitstekend in elke taak presteer het. Hy het dus sy staal reeds op ‘n baie vroeë leeftyd getoon.

As 15-jarige het hy as ‘n vakleerling by ‘n apteek in ‘n Chinese dorpie gewerk. Hy het die name van al die soorte medisyne in die apteek uit sy kop geleer, sodat die eienaar hom probeer oorreed het om ‘n geneesheer te word. Hy het egter verkies om verder te studeer. Met sy terugkeer na Thailand op 17-jarige ouderdom het hy as kok by ‘n houthandelaar in Yosse gaan werk.

Daarna het hy ‘n kontrakarbeider geword wat die winkel moes skoonmaak, hout op perdekarre moes laai vir kliënte, en die winkeleienaar moes help. Terwyl hy by die winkel werksaam was, het hy briewe aan sy familie in China geskryf. Toe sy werkgewer sy mooi handskrif sien, het hulle hom tot klerk bevorder. Dit was waarskynlik gedurende hierdie tyd dat hy sy skerp geheue ontwikkel het wat later een van sy grootste bates in die bankwese sou word. Wanneer hy hout verkoop het, moes hy die mate van al die verskillende soorte hout vir elke kliënt bereken en die berekeninge moes uit die hoof gedoen word!

Hy was ‘n beskeie man wat nie van oormatige verbruik gehou het nie en dinge gewoonlik op die langtermyn beskou het. Hy het die geld wat hy uit ‘n gesamentlike spaarpot verkry het, belê. Dit het hom in staat gestel om sy eie boekwinkel in Pattanakorn te open. Baie jongmans van daardie tyd sou die geld op plesier verkwis het. Mnr. Chin was ambisieus, sy oë altyd op die toekoms gerig. Sy klein sakeonderneming het gegroei totdat dit die grooste in Thailand se afdelingswinkelbedryf was. Sy vierverdiepinggebou het ‘n groot verskeidenheid produkte gebied (van skryfbehoeftes tot boumateriaal), en op elke verdieping is verskillende soorte items verkoop.

Get Jobilize Job Search Mobile App in your pocket Now!

Get it on Google Play Download on the App Store Now




Source:  OpenStax, Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 7. OpenStax CNX. Sep 09, 2009 Download for free at http://cnx.org/content/col11024/1.1
Google Play and the Google Play logo are trademarks of Google Inc.

Notification Switch

Would you like to follow the 'Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 7' conversation and receive update notifications?

Ask