<< Chapter < Page | Chapter >> Page > |
Aktiwiteit 1:
Om ’n spesifieke tekssoort vir inligting deur te lees, om die geldigheid van argumente te beoordeel en om gevolgtrekkings te maak
Krokodil Dundee duik toe op in woestynwêreld by Keetmans
Frieda le Roux
Was dit nie vir sy skurwe vel en effense gryns nie, was Dundee, die avontuurlustige krokodil wat verlede week in die suide van Namibië weggeraak het, vandag een van Windhoek se mees hubare vrygeselle.
Ja, die Indiana Jones van krokodille, wat ses dae lank in die sand-en-woestynwêreld in Keetmanshoop se omgewing rondgedwaal het nadat hy verlede Dinsdag van ’n bakkie geval het, is gevind.
En te oordeel aan die reaksie van veral besoekers aan die Windhoek-skou, waar Dundee saam met 92 ander reptiele van die Kaapstadse Slangpark kuier, is dit ’n gewilde kêrel hierdie.
Op die vraag of die krok deel in die vreugde van sy oppasser om weer “tuis” te wees, het mnr. Bryan Vorster gesê dis moeilik om te weet. “Krokodille het nou maar een maal nie ’n vriendelike geaardheid nie.”
Dundee was Saterdagmiddag besig om die pad sowat 110 km suid van Keetmanshoop oor te steek toe ’n baie verbaasde mnr. Pieter Mostert hom sien. “My vrou probeer my nog wysmaak dis net ’n groot likkewaan, maar ek kon mos sien dis ’n krokodil daardie,” het mnr. Mostert giser vanuit Omaruru, in die noorde van die land vertel.
Nadat hy met die hulp van mnr. André Lotter van die plaas Goibeb die krokodil gevang en toe sy bek toegebind het, het hulle Vorster gebel om te hoor wat hulle te doen staan. “Ons het hom natgegooi en toe, soos Vorster voorgestel het, die tuinslang by die krokodil se bek gesit. Jy kon letterlik sien hoe swel sy pens.”
Die vermoede was dat Dundee sou vrek weens ontwatering as hy nie gevind – of geslag – sou word nie.
Mostert, wat byna 30 jaar ’n natuurbewaarder was voordat hy onlangs as toergids begin werk het, sê dis die snaaksste ding wat hom al oorgekom het. Hy het spesiaal gekyk of daar enige seerplekke aan Dundee se lyf is weens die vallery uit die bakkie, maar kon niks vind nie.
Vorster, wat Sondag iemand gestuur het om Dundee te gaan haal, sê dis moeilik om te sê hoe ver die krok in werklikheid gestap het omdat hulle nie weet presies waar sy omswerwinge begin het nie.
“By ons aankoms op Keetmanshoop verlede Dinsdag was hy weg. Op ons vorige stilhouplek, Grünau, was hy nog daar. Iewers in hierdie 300 km het hy geval uit die bakkie, wat gesluit was.”
Hy het gesê daar was ’n “swak plek” in die slot en ’n stampie het vermoedelik die bak laat oopgaan.
Intussen is die opgestopte krokodil verwyder uit Dundee se hok op die Windhoek-skou om plek te maak vir die ware Jakob, wat tot Saterdag die stad se inwoners sal vermaak.
Notification Switch
Would you like to follow the 'Afrikaans huistaal graad 9' conversation and receive update notifications?