<< Chapter < Page | Chapter >> Page > |
AKTIWITEIT 1
Om
LU 3.4 | LU 3.5 | LU 3.6 | LU 6.2 | LU 6.3 | ||||||||||||||||||||||||
Bemagtig: Saldanha se werkloses boer
Mossels maak deur na beter lewe oop
Aanvraag só groot ‘hulle kan amper nie byhou nie’
MARENET JORDAAN
SALDANHA. - In ‘n klein geboutjie met ‘n vrolike geel dak in die hawe hier staan sewe vroue en sing terwyl hul vingers flink die dag se oes van 1,2 ℓ mossels skoonskrop.
Die meeste van hulle was ‘n jaar gelede werkloos en die Saldanha Mussel Growers’ Company (Salmusco) het vir hulle ‘n deur na ‘n beter lewe oopgemaak.
Me. Theola Coetzee (23) is een van dié gemeenskapsgedrewe maatskappy se 18 mosselboere en aandeelhouers. Vir elke kilogram wat die maatskappy van haar vlot se oes verkoop, kry sy R2,75.
Tog staan sy nog elke dag van 08:00 tot 17:00 saam met die ander vroue in die fabriek agter die skoonmaaktafels.
“Ek is nie bekommerd oor my vlot nie. Ek het ‘n werk nodig gehad,” het sy gesê.
Salmusco het op 1 September 2002 begin sake doen. Die mosselboere het hul vlotte met behulp van lenings deur die Landbank aangekoop.
Mnr. Alestaire Brown, bestuurder van Salmusco, het gesê die seetoestande en water in Saldanhabaai is ideaal vir mosselboerdery omdat daar gedurig golwe vol voedingryke plankton oor die vlotte spoel.
“Ons mossels kom nooit met sand of vars water in aanraking nie en ons verkoop net lewende mossels,” het Brown gesê.
Die gedagte aan die maatskappy het onstaan uit ontwikkelingswerksessies wat die Sentrum vir Geïntegreerde Landelike Ontwikkeling in die gemeenskap gehou het.
Mnr. Wilfred Williams, plaaslike ekonomiese ontwikkelingsbestuurder van die sentrum, het gesê die maatskappy gebruik tans net sowat 13 ha van die 50 ha wat hy by Portnet huur.
“Die doelwit is om eers die onderneming te stabiliseer voordat hy uitbrei,” het Williams gesê.
Werk by die fabriek begin reeds douvoordag wanneer die skuite Molina en Don Roco teen 04:00 by die vlotte gaan oes.
Mnr. Jaco van Reel, wat lid van die oesspan is, het gesê hy geniet sy werk omdat hy só die vars oggend-seelug kan inasem. Van Reel was voorheen ‘n kontrakwerker by ‘n staalfabriek.
Saam met hom op die Molina is mnr. Cratton van Niekerk, bedryfsbestuurder van Salmusco en ook ‘n mosselboer.
Hy was voorheen werkloos en het gesê hy het dié geleentheid met albei hande aangegryp.
Volgens Van Niekerk raak die aanvraag byna te groot en kan hulle amper nie by hul klante byhou nie. “Dit is opwindend om jouself te onderhou en te bemagtig. Ons maak nog nie eintlik wins nie, maar ek is elke dag bly om vorentoe te gaan.
marenet@dieburger.com
Notification Switch
Would you like to follow the 'Afrikaans eerste addisionele taal graad 9' conversation and receive update notifications?