Natuurwetenskappe
Graad 9
Lewensprosesse: ‘n gesonde lewe
Module 5
Asemhaling en gesondheid
Lugbesoedeling en baie stof en rook kan mense se longe beskadig. Dit is omdat die skoonmaaksisteem van die lugweë nie meer effektief kan werk nie.
Sodra die longweefsel beskadig is, kan hulle nie meer effektief suurstof na die bloed vervoer nie en moet die hart harder werk in 'n poging om suurstof aan alle selle te voorsien. Dit lei tot gesondheidsprobleme en hartsiektes.
Rook bombardeer die sensitiewe longweefsel aanhoudend met hul partikels en die weefsel reageer na 'n tyd daarop deur meer selle te kweek as pantser teen die aanslag – dit is
KANKER !
Respiratoriese siektes
Emfiseem:
- word gevind in mense wat rook – cilia is verlam en mukus bou op
- aanhoudende gehoes breek en beskadig bloedkapillêre
- gaswisseling word bemoeilik – persoon lei aan tekort aan suurstof
- dood kan intree
Bronchitis:
- inflammasie van die bronchi en bronchioli as gevolg van bakteriese infeksie
- baie mukus of flegma (dik slym) vorm – persoon hoes aanhoudend
- rook vererger simptome en verleng hersteltydperk
Asma:
- 'n allergiese reaksie op sekere stowwe wat bronchioli laat toetrek
- persoon kry nie asem nie
- medikasie vir die verwyding van die buisies is noodsaaklik
- dit is uiters gevaarlik om iemand anders se asmapompie te gebruik – daar is verskillende chemiese middels in die verskillende soorte – hou by jou doktersvoorskrif!
Tuberkulose (tb):
- word veroorsaak deur 'n bakteriese infeksie – longe word eerste geaffekteer
- persoon hoes aanhoudend, toon gewigsverlies, verlies aan eetlus, nagsweet, is uitasem en hoes bloed op
- dis aansteeklik, aangesien bakterieë versprei deur die fyn slympartikels wat deur siek persone uitgehoes word
- is ten volle behandelbaar by jou naaste kliniek – persone moet net met uitgerekte behandeling aanhou!
- 'n groot probleem op die Kaapse Vlakte en in arm gemeenskappe
- alle babas moet ingeënt word met 'n BCG-inenting
1. Hoekom ly asmalyers aan asemhalingsnood?
2. Hoekom hoes mense met TB bloed op?
3. Hoekom is TB in arm gemeenskappe so 'n groot probleem?
4. Hoekom moet jy nie hoesonderdrukkers neem as jy bronchitis het nie?
5. Hoe verloor 'n persoon die funksie van sy cilia as hy emfiseem het?
HET JY AL OOIT GESTIK?
- Jy stik as jy vinnig sluk of lag, praat of hoes wanneer jy sluk. Die epiglottis ('n kraakbeen dekseltjie) wat die lugpyp tydelik moet afsluit sodat kos by die slukderm moet afgaan, maak nie betyds toe nie en kos gaan in die lugpyp of trachea in.
- 'n Persoon wat stik, probeer altyd wegbeweeg en die benoudheid wegsteek. Volg so 'n persoon en vra of hulle reg is. Indien hulle klank kan uitkry, is die stik nie so erg nie en 'n stewige hoesbui sal die kos losmaak en laat uitkom. Indien die lugpyp egter geblokkeer is, het die persoon net 4 na 5 minute voordat breinskade intree.
Doen die HEIMLICH-MANEUVER!
Staan agter die persoon – arms om sy middel.
Maak 'n vuis met een hand en bedek met ander hand – plaas net bokant naeltjie en onder ribbe.
Maak 'n opwaartse rukbeweging – herhaal.
Klein kindertjies kan oor knie geplaas word.
Demonstreer die Heimlich-metode aan jou familielede – moenie regtig druk toepas nie!
Jy kan dalk 'n lewe red. Sluit aan by jou skool se noodhulpspan en doen 'n kursus.
Klasaktiwiteit: PLAKKAAT OOR ROOK
- Versamel waarskuwings op sigaretpakkies en in ou tydskrifte – onthou, deesdae is alle rookadvertensies verbode!
- Vind ook uit oor die wette t.o.v. van rook – daar is baie nuwe verwikkelinge.
- Maak 'n plakkaat wat as bewusmakingsveldtog kan funksioneer. Plak dit buite jou klas op of maak 'n uitstalling vir jou skool.
HET JY GEWEET?
- Elke sigaret verkort jou lewe met 5,5 minute – dus 20 per dag beteken 'n verlies van ses maande vir elke ses jaar van rook.
- 'n Sigaret bevat 4 000 verskillende chemikalieë, waaronder dodelike gifstowwe soos arseen, koolstofmonoksied, nikotien en sianied!
- 'n Halwe gram nikotien kan 'n volwassene binne minute doodmaak!
indien jy nou ophou:
- sal jy binne twee dae beter proe en ruik
- jou oggendhoesie sal binne twee weke verdwyn
- jou risiko vir hartsiektes sal binne 'n jaar halveer
die prysskok:
- Teen sowat R20 'n pakkie 20's kos dit jou teen 'n pakkie per dag R600 per maand en R7 200 per jaar in 2009!
Assesering: PLAKKAAT
Kon jy 'n gesondheidsboodskap uitbeeld deur te beplan (1.1) en die ondersoek uit te voer (1.2)
[LU 1.1; LU 1.2]
Assessering
LU 1
Wetenskaplike Ondersoek
Die leerder is in staat om met selfvertroue op weetgierigheid oor natuurverskynsels te reageer, en om binne die konteks van wetenskap, tegnologie en die omgewing verbande te ondersoek en probleme op te los.
Dit is bewys as die leerder:
1.1 ondersoeke kan beplan;
1.2 ondersoek kan uitvoer en data kan versamel;
1.3 data kan evalueer en bevindinge kan kommunikeer.
Memorandum
Asemhalingsisteem en gesondheid
VRAE LONGSIEKTES:
1. longbuisies trek toe
2. bloedkapillêre breek agv hoesbuie
3. verwaarlosing, swak gesondheidstoestande, gebrekkige opvoeding, klein beknopte behuising
4. flegma moet uitgehoes word
5. te veel flegma