<< Chapter < Page | Chapter >> Page > |
Die situasie het egter verander. Daar is vandag talle geleenthede vir die individu wat wil, om sy eie baas te word.
Ondervinding het egter dwarsoor die
wêreld bewys dat sewe uit tien (70 %) van
alle nuwe besighede binne die
eerste jaar misluk!
Die mens woon al baie lank op die aarde. Gedurende die grootste deel van sy bestaan het mense in groepies van 20 – 30 saamgewoon. Die rede hiervoor was dat min van hulle die koue weer en gevaarlike omstandighede van daardie tye oorleef het. Die groepe was byna soos uitgebreide families en hulle het byna alles gedeel. Die leier van elke groep het dan aan elke individu gesê wat om te doen. So is eie inisiatief hoofsaaklik gesmoor.
Oor die laaste paar duisend jaar het sekere gemeenskappe begin groei en welvarend geword.
Waarom het net sommiges dan na
so ‘n lang periode van primitiewe
bestaan skielik begin ontwikkel?
Daar is historici wat dit toeskryf aan die beginsel van eiendomsreg. Sekere gemeenskappe het individue aangemoedig tot privaat besit van eiendom en het sodoende begin welvarend word. Sodra die individu sy eie eiendom besit, word hy die meester daarvan en kan hy besluit wat hy daarmee wil doen, sonder om toestemming van die res van die groep te kry.
Dit het gou duidelik geword dat die besit van eiendom die individu se gesindheid beïnvloed het.
Kies die korrekte stelling:
Sodra mense toegelaat word om dit wat hulle verdien of produseer, vir hulself te hou, is hulle oor die algemeen bereid om harder te werk.
Sodra mense toegelaat word om dit wat hulle verdien of produseer, vir hulself te hou, is hulle oor die algemeen lui of nie bereid om harder te werk nie.
Waarom?
Hoe dink jy sal privaat eiendomsreg die meeste mense se ingesteldheid teenoor ‘n nuwe geleentheid / besigheid beïnvloed?
Verskillende gemeenskappe het gou ontdek dat hulle nie oor alle kennis en produkte binne hul eie gemeenskappe beskik nie en dat die verskillende gemeenskappe afhanklik is van mekaar. So is daar begin met ruilhandel . Dit was egter nie altyd maklik om een artikel vir ‘n ander te ruil nie. Hoe ruil jy nou ‘n koei vir ‘n koekie seep, of ‘n brood of selfs vrugte? Jy kan tog nie ‘n koei verdeel nie!
Het jy dalk ‘n oplossing?
Daar is eers gekyk na kommoditeite soos sout, wat in kleiner stukke opgebreek kon word en dan makliker verruil kon word vir kleiner hoeveelhede van ander produkte. Gou is die waarde van silwer ook besef – veral omdat dit by almal in aanvraag was.
Hierdie vorms van ruil is later geld genoem. Die pryssisteem is so ontwikkel. Die prys van ‘n artikel het die vervaardigers ‘n aanduiding gegee van die behoeftes van die verbruikers. So, byvoorbeeld, het diegene in die tekstielbedryf afgelei dat mense meer materiaal wou hê wanneer die prys wat vir materiaal betaal is, begin styg het.
Gestel jy is die leier van ‘n sekere gemeenskap en het besluit dat die prys van skoene heeltemal te hoog is. Jy kondig ‘n wet af wat alle skoenfabrieke verplig om die prys van skoene drasties te verlaag.
Notification Switch
Would you like to follow the 'Ekonomiese en bestuurswetenskappe graad 7' conversation and receive update notifications?